Die verleiding en verskrikking van Substack
The Afrikaans branch of PEN, the international writers´association protecting freedom of expression, invited me to participate in a series of articles about the world of the writer, and specifically requested some thoughts on my experience as a Substack writer. I wrote it in Afrikaans, of course, and I´m happy to share it with anyone on Substack who can read my beloved mother tongue.* If you´ve already read the piece on the PEN Afrikaans website, you can still scroll down for a bonus, only on Substack: Let´s call it my lucky packet of weekly highlights.
Ek is eintlik nog ´n nuweling in die enorme wêreldwye poel van Substack. Die feit dat ek tot dusver kop bo water hou, is waarskynlik bloot te danke aan my inherente versigtigheid. Ek het ´n paar jaar lank op die oewer gestaan en bedrewe swemmers dopgehou voordat ek uiteindelik agt maande gelede genoeg moed bymekaar geskraap het om ook in te spring.
Dit was ´n skrikwekkende sprong. Ek is ´n tegnologiese idioot, weet niks van programmering nie en amper so min van rekenaars, en die gedagte dat ek nou op my eie `inhoud´ moet skep op ´n aanlyn platform, was byna genoeg om my terug te jaag na die bekende veiligheid van die oewer. (Waar die beste stuurmanne mos altyd staan en kommentaar lewer.) En tog is daar ook iets verslawends aan die adrenaliengedrewe opwinding wat ek ervaar elke keer as ek ´n rubriek op Substack publiseer.
Soos ´n ander Substack-skrywer dit gestel het, dis soos om weekliks stoksielalleen ´n outydse dorpskoerant uit te gee. Jy is redakteur, verslaggewer, sub, fotograaf, bladuitlegkunstenaar, bemarker, alles waaraan jy kan dink, op eie houtjie. ´n Vreesaanjaende, onweerstaanbare uitdaging vir ´n skrywer wat as joernalis opgelei is en lank gelede by ´n outydse papierkoerant gewerk het. Waarlik ´n geval van Publish and be damned, want as jy eers daardie knoppie gedruk het om jou `koerant´ na jou Subscribers se elektroniese posbusse te stuur, kan jy dit nie terugroep of uitwis nie. Jy kan wel tik- of taal- of feitefoute korrigeer in die kopie wat jou Followers daarna op Substack kan lees, maar die Subscribers kry die eerste rou weergawe.
En net om dit vir nuwelinge duidelik te maak: Subscribers of intekenaars is jou getrouste lesers, sommige van hulle is selfs bereid om te betaal om jou rubrieke per e-pos te ontvang, terwyl Followers of volgelinge minder betrokke is. Ek is byvoorbeeld self ´n Follower van ´n hele skare Substack-skrywers, maar ´n Subscriber van ´n veel kleiner groepie. Dié wat ek volg, is soos ´n smorgasbord vol lekkernye waaraan ek na willekeur kan peusel. Dié waarop ek ingeteken is, is stapelvoedsel waarsonder ek nie kan klaarkom nie.
Maar daardie onvermydelike tikfoute in selfs wêreldbekende skrywers se Substack-rubrieke, en die unieke stem van elke skrywer, is juis wat dit onderskei van al die `perfekte´en generiese KI-skryfsels wat so onkeerbaar soos onkruid in die internet groei.
Nogtans probeer ek natuurlik om my dorpskoerant so aantreklik en flatervry as moontlik te publiseer, want my naam en my skryfreputasie is op die spel. Dit sou ongetwyfeld vir my makliker gewees het om in Afrikaans te skryf, maar ek het besluit om dit hoofsaaklik in Engels te doen. Soveel meer grammatikale gate waarin ek kan val en spelfoute wat my kan pootjie. Waarom wou ek ´n moeilike ding nog moeiliker maak?
Daar is verskeie redes, soos die feit dat heelwat van my fiksielesers nie Afrikaans verstaan nie en my boeke in vertalings moet lees, asook die bitter persoonlike rede dat my man en kinders en Franse familie en vriende nie my Substack-rubrieke sou kon lees indien ek dit in Afrikaans geskryf het nie. ´n Ewe belangrike oorweging is dat ek graag my leespubliek wil uitbrei, en ´n wêreldtaal gee my eenvoudig wyer toegang. En ek wil oefen om beter in Engels te skryf omdat ek daaraan dink om my volgende boek terselfdertyd in Afrikaans én Engels te skryf - eerder as om dit eers in Afrikaans te skryf en daarna te laat vertaal.
Maar ek het van my eerste plons in Substack se poel vir my Afrikaanse lesers belowe dat ek soms ook Afrikaanse rubrieke sal skryf. Omdat ek wil, omdat ek moet, omdat ek nie sonder Afrikaans kan skryf of lewe nie.
Die eerste Substack-publikasies wat my ´n paar jaar gelede van ´n geïnteresseerde oewerkyker in ´n geesdriftige Subscriber verander het, was trouens in Afrikaans. Wemar Strydom (knaap.substack.com) het begin om uitverkore bydraers se queer erotiese briewe te deel. As byna bejaarde straight(erige) vrou is ek beslis nie die teikengehoor nie, maar baie van die briewe is goed geskryf, of in elk geval beter as die deursnee Afrikaanse erotika wat ek tot dusver op die intenet raakgelees het (vol grillerige verkleinwoordjies soos broekie en koekie en boudjies), en enigiets wat goed geskryf is, is genoeg om my belangstelling te prikkel. Miskien is prikkel nie die regte werkwoord in hierdie konteks nie, maar ek lees steeds gereeld knaap se briewe (deesdae knaap vol 3 genoem) ter lering en vermaak.
Nog ´n Suid-Afrikaner wat ek behoort te bedank op my lang paadjie tot by my eie Substack-bydraes, is die digter Karin Schimke (Love Letter). Sy het in 2022 ´n gereelde `liefdesbrief´ begin skryf, vir haar dogter wat pas die huis verlaat het, en deel deesdae hierdie brief met byna ´n duisend intekenaars op Substack. Ek en Karin het in die openbaar oor briewe begin gesels toe sy by die Franschhoek Literary Festival in 2022 ´n onderhoud met my gevoer het oor my nie-fiksieboek, A Long Letter to My Daughter (´n Baie lang brief aan my dogter), en ons het hierdie gesprek voortgesit toe ons mekaar laas jaar weer by ´n boekfees in Kaapschehoop raakloop. Dié keer het sy ´n praatjie gelewer, spesifiek oor Substack, en dit was dalk net die finale stamp wat ek nodig gehad het om pens en pootjies in die Substack-poel te spring.
Karen het intussen genoeg Paid Subscribers versamel om haar in staat te stel om ´n deel van haar dogter se buitelandse studiegeld te betaal. Vir my was dit ´n deurslaggewende brokkie inligting. Nie dat ek verwag om ooit ryk te word deur vir Substack te skryf nie, maar vir vryskutskrywers soos ek is daar nie veel opsies oor om sakgeld te verdien nadat die meeste van die koerante en tydskrifte waarvoor ek jare lank rubrieke en essays geskryf het, van die toneel verdwyn het nie. Ek het in November laas jaar my eerste rubriek op Substack geskryf en sedertien lewer ek elke week of tien dae my dorpskoerant in Subscribers se posbusse af.
Aanvanklik het ek nie eens ´n betaal-opsie bygelas nie. Ek wou bloot ´n klompie gereelde gratis intekenaars werf om te kyk of ek die pas sou kon volhou. Die grootste verrassing was dat enkele intekenaars my binne ´n maand of twee laat weet het dat hulle bereid sou wees om te betaal om my skryfwerk te lees. (In Substack-taal word dit ´n Pledge genoem.) Aangesien Substack se betaalstelsel nog nie aan Suid-Afrikaanse bankrekenings gekoppel is nie, skryf die meeste Suid-Afrikaners steeds gratis, met die lokmiddel van Pledges vir die blye dag wanneer hulle betaalde intekenaars sal kan aanvaar.
Sodra dit moontlik word, sal ons waarskynlik baie meer Suid-Afrikaners in hierdie poel aantref. Intussen publiseer Jen Thorpe reeds ´n gereelde lys van Suid-Afrikaanse Substack-bydraes (South African Writers´ Pub Hub) wat elke maand langer word. Die laaste een wat ek gesien het, vir 27 April tot 19 Mei, het byna 400 bydraes ingesluit, onder alfabetiese afdelings van Arts & Culture tot Travel & Food, met enigiets van Business tot Poetry tot my persoonlike gunsteling, Personal Essay & Memoir, tussenin gerangskik. Gaan loer gerus na die lys, dis so uiteenlopend dat jy onvermydelik iets gaan vind wat jou behaag.
Suid-Afrikaanse Substackers wat in die buiteland woon of buitelandse bankrekeninge het, kan natuurlik betaalde intekenaars aanvaar. Toe Substack my ná presies twee maande in die poel inlig dat ek die Top 100 Rising in Literature bereik het, was ek dankbaar dat ek die moeilike besluit geneem het om in Engels te skryf, want daar was slegs Engelse bydraers op hierdie wêreldwye trefferlys. Maar laat ek net gou weer verduidelik: Dis nie noodwendig skrywers met derduisende Subscribers nie, daar is ´n afsonderlinge Literature-lys waar jy die heel bekendste name sal vind. Rising in Literature beteken bloot dat jy die vinnigste opgang maak, die meeste nuwe Subscribers in ´n beperkte tydperk gekry het. En soos ek myself moes herinner om nie deur die dak te vlieg van naiëwe opgewondenheid nie, as jy met geen intekenaars begin en binne twee maande ´n paar honderd kry, is dit nie só ´n prestasie om in hierdie Top 100 te beland nie.
Nogtans. Ek sou jok as ek sê ek was nie in my noppies nie. Dit het my oortuig dat ek dit dalk kon waag om betaalde intekenaars te begin werf. Dis nou ses maande later en ek het meer as 500 intekenaars, waaronder ´n klompie betaaldes, en ´n hele paar volgelinge wat ´n finansiële lassie maak deur vir my virtuele koffie te koop. Onbereikbaar ver van Margaret Atwood (nr 4 in Rising in Literature) se 167 000 intekenaars – maar om op dieselfde lys as Atwood te wees is darem al iets.
En die lekkerste nuus het ek laas week gekry, toe Substack laat weet dat ek steeds stadig maar seker opkruip in daardie gesogte lys, want in Januarie was ek verheug om nr 86 te wees en nou is ek sowaar nr 69. As ek elke ses maande so twintig plekke boontoe kan skuif, sal Mies Atwood oor haar skouer moet begin loer.
Nee, in alle erns, tot dusver is ek maar net te bly dat ek nog nie soos ´n klip gesink het in hierdie massiewe internasionale poel nie. Dankbaar dat ek ´n manier gevind het om rubrieke te skryf, vir ´n klein maar waarderende gehoor wat vir my gereeld terugvoer gee. En bowenal opgewonde oor al die nuwe skrywers wat ek steeds op Substack ontdek.
*Ek deel graag ook die skakel na PEN Afrikaans se webwerf, waar hierdie meningstuk saam met dié van verskeie ander Afrikaanse skrywers in die artikelreeks gelees kan word (Pen Afrikaans).
Nou vir die lucky packet (lakkie pêkkit soos ons dit kleintyd genoem het) wat ek hier bo belowe het. Substack-lesers weet dat ek gewoonlik my `koerant´ afsluit met persoonlike hoogtepunte uit my week, amper soos die agterblad van ´n outydse papierkoerant, maar pleks van sensasionele skindernuus of vervelige sportnuus deel ek ´n paar dinge wat my innerlike Polyanna versterk in haar ewige stryd teen my innerlike Wednesday Addams. (Meer hieroor in: On becoming better.)
Woord van die week: Vlierbessieblomstroop - probeer dit bietjie ´n paar keer vinnig sê - is meer as net ´n liriese tongknoper. Soms amuseer sulke laaaaang Afrikaanse (en Duitse!) woorde my, maar dié een is vir my lieflik. Dalk omdat ek eers in die afgelope dekade agtergekom het dat vlierbessieboom die vertaling vir elderberry tree is, en intussen het hierdie boom een van my gunstelinge op die Franse platteland geword.
Volgens ou Europese volksverhale en legendes is die vlierbessieboom ´n allerheilige boom, bewoon deur ´n moederlike gees (Hylde Moer in Deens genoem) wat jou kan beskerm. Sy waarborg gesondheid en voorspoed as die boom naby jou huis groei - maar bewaar jou siel as jy dit durf waag om die boom af te kap. Dan word Hylde Moer moerig en neem wraak. Volgens sommige legendes beskerm die boom jou ook teen hekse, terwyl ander stories weer vertel dat hekse juis daarvan hou om onder die boom te vergader.
Oorgenoeg redes, in elk geval, vir ´n storieliefhebber om hierdie boom lief te kry - hoewel ek moet bieg dat ek die vlierbessieboom eintlik net één maand van die jaar van ver af herken, in die laatlente wanneer die wit blomme soos enorme trosse sterretjies tussen die lower pronk. In die ander seisoene lyk dit vir my maar soos enige ander boom wat wild en welig langs plattelandse paaie groei (die Franse noem dit ook die `murasieboom´ omdat dit dikwels langs ou klipruïnes aangetref word), maar in Mei word dit ´n lus vir die oog wat boonop gratis veldkos verskaf.
Jy kan byvoorbeeld die trosse sterretjies pluk en in ´n beslag dompel en in olie braai. Strooi ´n lagie suiker bo-oor en jy kry ´n soort oliebol of flower fritter, maar mooier as die meeste ander (soos dié van hibiskus- of murgpampoentjieblomme wat ek ook graag eet), danksy die vlierbessieblom se magdom sterretjies. Die lekkerste, maklikste manier om die blomme te benut, is egter om vlierbessieblomstroop te maak - al wat jy nodig het, is omtrent 25 blomtrosse, 1 kg suiker, 1 liter water en die sap van 1 of 2 suurlemoene - en maande ná die vlugtige blomseisoen verby is, kan jy steeds ´n skeutjie van jou welriekende elderflower cordial saam met borrelwater of tonikum geniet. Jy kan ook ´n hele verskeidendenheid van alkoholiese mengeldrankies met hierdie stroop maak of dit in ´n koekmengsel gebruik of allerhande ander paartie trieks daarmee uithaal.
Dis waarom ek nou my ode aan die vlierbessieboom skryf, terwyl ek in die versengende somerhitte verfris word deur die vlierbessieblomstroop wat ek laas maand gemaak het. Saam met rinkelende ysblokkies in ´n lang glas. Gesondheid!
Beeld van die week: Gereelde lesers sal ook weet dat ek nie ´n ou klipkerk kan weerstaan nie, en die dosyne kerke in selfs die kleinste dorpies in die Dordogne-streek bly vir my ´n nimmereindigende vreugde. Soms is die eeue-oue kerkie verwaarloos en die deur gesluit, maar verbasend dikwels kan jy eenvoudig die deur oopstoot en binnestap - en keer op keer vind ek iets wat my verras. ´n Oordadige Barok-altaar vol vergulde kronkels en goue gerubyntjies in ´n kerkie wat van buite af geheel en al sober lyk. Pragtige gebrandskilderde vensters waardeur lig stroom om gekleurde patrone op die ou klipvloere te gooi. En soms die verruklikste beelde, soos dié een laas week in ´n buurdorp waar die kerkdeur voorheen toe was elke keer as ek daar verbystap.
Dié keer was die deur oop omdat die reisende priester wat deur ´n paar dorpe gedeel word, binnekort ´n mis daar sou hou. Ek het nuuskierig ingeloer, my verkyk aan die ingewikkelde klipwerk van die koepelplafon, en in verwondering op ´n kerkbankie neergesak voor hierdie enorme houtbeeld van ´n Christus-figuur wat lyk asof hy iewers in Noord-Afrika gaan haal is om aan ´n kruis in ´n beskeie klipkerkie in ´n dorpie in Périgord te kom hang.
Ek gaan nie kerk toe om na religieuse preke te luister nie, mea culpa, maar as ek toevallig in ´n stokou kerk beland, word ek dikwels meegevoer deur iets wat soos religie voel. Die suiwerheid van skoonheid en stilte - wat dalk ook ´n soort religie is.
Aanhaling van die week: The only way to achieve the impossible is to believe that it is possible. Dié geliefde aanhaling uit Lewis Carroll se Alice in Wonderland lees ek vandeesweek, in Frans vertaal, op ´n fraai gratis boekkassie of Free Library langs ´n teewinkeltjie in die dorp Castillonès. Soms voel dit inderdaad onmoontlik om aanloklike Engelse boeke op die Franse platteland te vind, maar dan ontdek ek ´n kassie met ´n paar gratis Engelse boeke én ´n teewinkel met ´n rak vol tweedehandse Engelse boeke, en ek kan Canada van Richard Ford asook Human Traces van Sebastian Faulks vir ´n skamele 2 euros elk aanskaf. En dan glo ek sommer weer dat die onmoontlike moontlik kan wees.





I confess, I had to resort to an automatic translation app. because my matric level Afrikaans has failed me! Nevertheless thanks for a lovely read and the Vlierbessieblomstroop recipe x
Haai Marita, dit is so lekker om jou ervarings en gevoelens (verleiding en verskrikking :).) oor Substack in Afrikaans te lees! Alhoewel ek 'n baie Afrikaanse opvoeding geniet het (Laerskool Dirkie Uys en Hoër Seunsskool Helpmekaar en Randse Afrikaanse Universiteit) kom my ouers uit Nederland en het ek altyd in 'n baie Engelse omgewing gewerk. Dus is dit vir my baie makliker om in Engels te skryf. Maar soms dink ek ook dit sou lekker wees om sommige stories in Afrikaans (en/of in Nederlands) te skryf. Het ook al gedink aan automatiese vertaling, maar dan sou ek dit self moet "edit" (wat is dit in Afrikaans?) om te sorg dat die vertaling dieselfde "voel" as die oorspronklike Engelse weergawe.
Ek moes ook bietjie lag oor jou "verleiding en verskrikking". Ek is nie opgelei as 'n skrywer nie, hou maar net daarvan om stories te vertel. Dit het ek begin doen op 'n Wordpress blog, maar dit het nie eintlik gegroei nie. Toe verhuis na medium.com, waar ek darem 'n klompie "followers" opgetel het. Maar die bietjie inkomste wat ontstaan het uit wanneer ander lede my stories lees, het nooit meer geword as my maandelikse koste om deel te neem nie. Dus toe het ek maar oorgeskuif na Substack, en al my dissipels saamgesleep hiernatoe :). Voorlopig is al my stories gratis, miskien kom daar eendag 'n boek met kortverhale wat ek dan kan probeer verkoop, wie weet. 'n Soort van memoir versameling, want my lewe in verskillende lande is soms snaakser en meer "weird" (wat is dit in Afrikaans?) as ander mense se fiksie!
In elk geval gaan ek aanhou om jou stories te lees (in Afrikaans of in Engels) dus hou asseblief aan skryf. Ek hoop die Substack verleiding het die verskrikking oorwin :).